Goedkoper as motor

Posted on Aug 22, 2004 in Media Reports

‘n Rit elke 10 minute. Is inwoners van Pretoria en Johannesburg bereid om vir R40 hul motor by die huis te los en in die Gautrein been en weer te reis? Dis nou vir inwoners, terwyl die aanbevole koste vir toeriste wat van die Johannesburgse Lughawe reis R80 sal wees.

Mnr. Jack van der Merwe, hoof van die Gautrein-projek, sê beslis ja. “Ons filosofie is om motoriste uit hul voertuie te kry om eerder van die trein gebruik te maak. Ons probeer nie met die bestaande openbare vervoer meeding nie. “Die diens moet ook lonend wees en daar is geen sprake dat die staat pendelaars se kaartjies sal subsidieer nie.”  Daarom sal kaarrjiepryse efiens minder wees as om in ‘n motor van Pretoria na Johannesburg te ry.

Volgens Van der Merwe skat hulle die koste per motorrit in een rigting tussen die twee stede tans op R22 (tussen 45c/km en 55c/km) en dit sluit nie die slytasie van ‘n voertuig in nie.   “Ons eie navorsing toon dat motoriste wel bereid is om van die trein gebruik te maak, solank hul vervoerkoste nie ingrypend styg nie en dit nie langer duur om by die werk te kom nie.”

Die trein sal na verwagting binne 38 minute tussen Pretoria en Johannesburg reis en 12 minute tussen Sandton en die Johannesburgse Lughawe. Daar word ook van die konsortium wat in beheer sal wees van die trein verwag om pendelaars in busse in ‘n radius van 10 km na elk van die twaalf stasies op die roete te vervoer.

Wanneer hulle by ‘n stasie uit-klim, sal hulle weer in ‘n bus kan klim wat hulle 5 km van die stasie sal aflaai. Gautrein-kaartjiehouers sal gratis van die busdiens gebruik maak.

Daar moet ook reelmaat wees, want as iemand dalk skielik huis toe wil gaan, moet die trein beskikbaar wees. Daarom sal die trein in spitstye elke tien minute loop en vir die res van die dag elke twintig minute.

Van der Merwe se daarbenewens neem verkeer op die N1-hoofweg tussen Pretoria en Johannesburg jaarliks met 7% (21000 motors per jaar) toe.

“Ons gaan nou ‘n situasie tegemoet waar daar die hele dag lank spitsverkeer op die roete is. Mense is moeg vir die verkeerskrisis op die pad en ons beskou die sneltrein as die oplossing vir die probleem.”

GAUTENG RAPPORT – 22 Aug 2004 Page 3 – Johan Eybers

© 2014 Gautrain. All Rights Reserved.